Cupid sê: Kolskoot!

My huis is altyd vol van liefde. Daarvoor is ek so dankbaar.
Liefde lê sommer en wag vir jou by die voordeur. Ons het mekaar lief en ons wys dit.
Maar onlangs het hier het ‘n
wonderlike,
halsoorkop,
rooiwang, onderste- bo liefde in my huis kom lê-plek maak dat tot my matte skoon uit plek lê.
‘n Warrelwind tiener smoor-verlief-geit het my huis kom okkupeer van hoek tot kant.
Dis mooi.
Chaoties mooi.
Sy lag en giggel deurmekaar. Alles is deurmekaar.
Sy eet met twee vurke en bêre die koffie in die yskas. Haar twee boeties hou die besigheid so onderlangs dop.
Dis mooi, so verskriklik mooi.
Sy dagdroom en luister na love songs op repeat....400 keer oor en oor.
Skielik so uit die bloute het sy iemand se blonde poniestert meisie geword.
Haar groen is gras-groen. Sy sien en praat in oortreffende trap.
Dis ‘n tiener liefde maar sy is mooi.
Haar twee broers stap effens meer wye arms en dring aan op die naam van die “indringer” wat hulle sussie se wange so bloedrooi inkleur.
‘n Ma is ‘n ma is ‘n ma….
Natuurlik wil ek preek. Ek wil wil keer. Ek wil wil voorberei op ‘n hart wat dalk mag seerkry, maar ek sê niks. Niks gaan die lekkerste, mooiste gevoel op aarde neutraliseer nie. Ek het besluit ek hoef ook nie iets te sê nie.
Vir nou is sy verlief en verlore. Kupido se pyl het haar getref.
Ongesiens pak ek kussings, hope kussings.
Alles wat ek kan kry wat sag is.
Haar sagte landing is gereed.
Hoe dit ook al sy, sy gaan moet land. Waar dan nou beter as in haar eie liefhê-huis tussen ma, boeties, honde en die kat.
Tot dan skuif ek maar deurmekaar matte reg en koop elke week ‘n ekstra bak roomys vir die vrieskas.
©Yolande Brittnell-Steyn
Share Post
Complete the following form if you require more info about EQ4kids or want to enroll your child at your nearest Franchise.
Blog Enquiry








