EQ vs IK
Waarom emosionele intelligensie jou kind meer suksesvol sal maak.
Emosionele intelligensie (EQ of EI) is ‘n konsep wat tans wyd bespreek word, kenners sê self dat slegs 20% van sukses in die lewe is afhanklik van jou IK, die ander 80% is afhanklik van onder andere Emosionele Intelligensie (EQ).Die goeie nuus is dat EQ ‘n vaardigheid is wat aangeleer kan word en jy as ouer kan sommer vroeg al jou kleuter emosioneel intelligent grootmaak.
Wat is Emosionele intelligensie?
Die konsep van EQ verduidelik waarom twee individue met dieselfde IK se sukses in die lewe drasties kan verskil. Die begrip “emosionele intelligensie” bestaan uit twee komponente: “intelligensie” en “emosie” wat verband hou met kinders se lewensukses, lewens kwaliteit, skoolgereedheid, akademiese sukses en gesondheid, asook volwassenes se werksukses en huweliksverhoudings. Navorsing het bewys dat kinders met ’n hoë EQ se kanse om emosionele probleme te ondervind verminder, waar onderwysers ook geraporteer het dat kinders met ‘n hoë EQ beter presteer, gereelde skoolbesoek het, nie betrokke by boelie gedrag is nie en empatie teenoor klasmaats toon.
In kort behels emosionele intelligensie die vermoë om jou eie emosies te kan herken, te beheer en uiting te gee aan emosies op ‘n sosiaal aanvaarbare wyse, jouself te kan motiveer, impulse spanning te kan beheer, emosies in ander te kan herken en verhoudings suksesvol te hanteer.
‘n Praktiese voorbeeld is die student wat sy tyd effektief bestuur, take altyd betyds inhandig, self vir eksamens studeer, ‘n deeltydse werk het en toelating tot Universiteit verkry het, dit alles terwyl hy suksesvolle familie en vriende verhoudings onderhou. EQ beïnvloed dus die meeste fasette van ‘n individu se lewe positief.
Hoe lyk ‘n kind met ‘n sterk emosionele intelligensie?
- ‘n Kind met ‘n sterk EQ kan homself dryf en het dus ‘n groter kans om akademies en in sport suksesvol te wees,
- Toon minder gedragsprobleme tuis en by die skool ,
- Het selde konflik met maats, ouers en onderwysers en is meer gewild onder maats,
- Het ‘n sterk selfbeeld, hou van hulself en sal nie maklik ingee vir groepsdruk nie,
- Kan goeie en regte besluite selfstandig maak,
- Leer uit hulle foute eerder as om toe te laat dat foute of uitdagings hulle negatief maak.
Wenke om jou kind emosioneel intelligent groot te maak:
- EQ begin by die huis:
Ouers demonstreer EQ al aan hulle pasgeborenes, wanneer hulle op baba se huil reageer, hulle optel en vertroosting gee. Deur empaties op te tree teenoor mekaar, familie, vriende en vreemdelinge leer kleuters om daardie gedrag na te boots. Wanneer kleuters sien hoe hul ouers ‘n behoeftige persoon afjak, sal hul dit heel waarskynlik in die toekoms met ‘n maatjie ook doen.
- Gee dit ‘n naam:
Die belangrikste is dat kleuters verstaan wat hulle voel en te leer om daardie emosie eerder in woorde as in dade oor te sit. Gee dus erkenning aan jou kind se emosie deur te sê “mamma kan sien jy is kwaad omdat boetie jou speelding gevat het, maar dis nie reg om hom te slaan nie, kom ons praat eerder met boetie en gaan gee vir hom ‘n bal om mee te speel”. Die piek tyd vir aggressie in kleuters is tussen die ouderdom van twee en vyf, omdat hulle nog nie die woordeskat het om hulself effektief uit te druk nie en dan uit frustrasie byt of slaan.
- Lees gereed boekies vir jou kleuter:
Gesels met jou kleuter oor die karakters in die boek, moedig hulle aan om te verduidelik hoe hulle dink elkeen voel en hoekom hulle op ‘n spesifieke wyse optree. Benut storie tyd om begrip vir verskillende emosies vas te lê en gepaste maniere te oorweeg om verskillende gevoelens te hanteer.
- Prys goeie gedrag: Moedig ook positiewe selfspraak aan, leer jou kleuter om nie moedop te gee alvorens ‘n taak bemeester is nie, leer jou kleuter dan ook om trots op homself te wees.
- Gesels oor die dag:
Probeer om saans as gesin saam oor elkeen se dag te gesels, vertel oor beide lekker en slegte gebeure van die dag en hoe dit reg of dalk anders gehanteer kon word.
- Luister empaties na jou kleuter; sonder om te kristiseer, die probleem te probeer oplos of dit af te maak as onbelangrik. Moedig jou kleuter aan om self aan oplossings te dink.
Share Post
Complete the following form if you require more info about EQ4kids or want to enroll your child at your nearest Franchise.
Blog Enquiry








