‘n Ligtoring–ma

Agtien word is seker vir my een van die mees brose ouderdomme.
Tussen muis en man...
Tussen klein en groot
Tussen bang en vreesloos
Tussen my huis en die wêreld..
Dis my tweede agtiende en ek is alweer besig om te trek. Die wêreld trek aan die een kant en mams trek aan die anderkant.
Dis maar 'n ma-ding.... die trekkery. Jy trek sonder dat jy weet. Net daai laaste bietjie vashou voor die wêreld hom finaal insluk.
Maar ma verloor stadig maar seker teen die wêreld se geroepery.
Sy kop wat draai vir die stad se liggies.
Sy oë wat blink as hy die stuurwiel vashou.
Sy rëelings wat lankal nie meer jou insluit nie.
Musiek wat jou by die deur laat briek trek.
Sy screensaver is 'n beauty met 'n ponytail en lip-ice lippe...
Tussen aansoek vorms van groot universiteite worry ma of hy daarbuite gaan verdwaal.
Die kranse is hoog waar hy wil afspring.
Die berge is hoog wat hy wil uitklim.
Die motors is vinnig wat hy wil ry.
Die plekke is ver waar hy wil gaan woon.
Ek weet ek raak ouer.
Ek weet ek raak wyser.
Van plat op die mat Legos bou, groei ek stadig maar seker langer tot my lyf 'n ligtoring raak...
Want daarbuite vaar binnekort nog een van my skepe...
©Yolande Brittnell-Steyn
Share Post
Complete the following form if you require more info about EQ4kids or want to enroll your child at your nearest Franchise.
Blog Enquiry








