Ouers en Onderwysers – Wees Versigtig!

Ons vergeet soms dat kinders onder die ouderdom van 7-8 jaar ‘n baie beperkte kapasiteit het om inligting te sif. Dit beteken dat die dinge wat ons kinders hoor en sien by onderwysers, ouers en ander volwassenes waarop ons staat maak ‘n groot impak op ons kinders kan hê. Negatiewe ervaringe of oortuigings wat gelewer word deur die voormelde rolspelers word iets wat ons kinders daagliks saam met hulle dra. Al hierdie dinge speel dan ook ‘n rol in ons kinders se verhoudings met ander en hulself en kan ook hul eiewaarde beïnvloed.
Ek dink dit is soms nodig vir ons as ouers en ook onderwysers om gereeld onsself hieraan te herinner. Daardie klein seuntjie of dogtertjie wat voor jou sit is so ongelooflik beïnvloedbaar. Die woorde wat jy spreek en die voorbeeld wat jy stel word daardie kindjie se innerlike bron van motivering vir soveel dinge in hul lewens. Daar is nooit ‘n rede om enige kind af te breek nie, enige boodskap kan met vriendelikheid, simpatie en respek oorgedra word.
Voorbeelde waar ons as ouers soms ‘n slegte voorbeeld stel kan insluit ons uitgesprokenheid. As ons as ouers nie van iemand hou nie of woedend is oor die optrede van iemand anders, is ons kinders nie die persoon wat dit moet hoor of ontgeld nie. Jy sal binnekort dalk weer beter voel oor die persoon met wie jy in ‘n konflik situasie was, maar vir daardie kindjie het jy die boodskap oorgedra dat hierdie persoon sleg is of dalk nie vertrou kan word nie. Kinders onthou hierdie dinge en ‘n situasie soos hierdie is genoeg om dan ook in jou kind die geneigdheid te kweek om negatief van ander te praat of negatiewe gedagtes oor hul te koester.
Onderwysers moet ook versigtig wees om nie hul woede vir ouers uit te haal op hul kinders nie. Geen kind kan verantwoordelik gehou word vir die optrede van hul ouers nie. ‘n Wyle gelede het ‘n vriendin van my in ‘n konflik-situasie beland met een van haar dogter se onderwysers, dit was daarna duidelik dat die dogter self ewe skielik begin swaar trek het by die skool en dat die spesifieke onderwyser negatief teenoor haar begin optree het.
Kom ons onthou dat ons as ouers en onderwysers almal volwassenes en dat ons kinders ook maar net kinders is. Ek en jy bepaal wat in hul reistasse gepak word waaruit hul vir die res van hul lewens gaan moet leef.
Share Post
Complete the following form if you require more info about EQ4kids or want to enroll your child at your nearest Franchise.
Blog Enquiry








